Drama

CHS Dramatiese Kunste het vir die heel eerste keer ‘n produksie met groot welslae by die jaarlike Grahamstad Nasionale Kunstefees opgevoer, by name Die Huweliksaansoek, ‘n vrolike klug deur Anton Chekov, verwerk deur Melina Smit.

Die dramadepartement het die ongelooflike prestasie behaal om die ATKV-Tienertoneelkompetisie se Vrystaatstreekfees vir die tweede agtereenvolgende jaar te wen. Dertig dramaleerers van CHS het gedurende Augustus aan die Nasionale Tienertoneel-kompetisie in Bloemfontein gaan deelneem na ‘n suksesvolle “Poeding Port & Pouetrie” – aand in die Keevy Kleinteater. Die twee produksies, Die Prys van Eiers (regie en teks M. Smit) en Sit Regop (‘n verwerking van Christian Olwagen se drama, X&Y – deur die leerder-regiseurs, Wian Taljaard en Baila van den Heever) vaar uitstekend in die kompetisie. Die Prys van Eiers dring deur na die top-vier Streeksfinaal en skop weereens stof in die oë van skole soos Sentraal, Fichardt Park, Grey College en C&N Sekondêre Meisieskool Oranje.

Hoërskool Cradock se produksies verwerf verskeie toekennings. Die drie goue toekennings waarvan slegs ses in die streek toegeken is, gaan aan Wian Taljaard vir die produksie Die Prys van Eiers en aan Jeandri Visser vir kostuums.

Die hoogtepunt van 2016 se dramaprestasies is egter die feit dat CHS deurgedring het na die ATKV se Tienertoneel Finaal Top-16 te Aardklop met die produksie Die Prys van Eiers. Hierdie is ‘n besonderse prestasie, veral wanneer daar in ag geneem word dat daar meer as 3000 deelnemers was wat aan meer as 180 produksies deelgeneem het. Dit is die vierde maal in 10 jaar dat Hoërskool Cradock deurdring na die ATKV Tienertoneel Finaal.

Die tweede Jong-Regisseursplatform vir opkomende skrywers en regisseurs is ook gedurende die tweede kwartaal van 2016 aangebied. Die idee was om enersyds ervare dramaleerders die geleentheid te bied om as regisseurs en teksskrywers te ontwikkel, en andersyds om meer toneelspel-geleentheid aan ons leerders te bied. Karla Taljaard – oudskolier wat haar graad in drama behaal het en tans besig is met haar Hoër Onderwys Diploma aan Rhodes-universiteit was die hoofbeoordelaar. Die drie produksies, Kyk Noord! onder leiding van
Kalinka Venter, Dirkie Cronjé en Zander Niemand, Curl up & Dye, onder leiding van Thomas Lord en Raylene Ferreira (ook aangewys as die Beste Regisseurs) en ‘n Kwessie van Verbeelding, met Doané de Beer en Leané Jonker aan die stuur (ook aangewys as die wenproduksie) was waarlik ‘n toonvenster van die veelsydigheid van CHS se dramaleerders.