SPORT

 

     rugby3   rugby2     rugby

Rugby

Vroeg in 2016 het die spelers van Hoërskool Cradock se eerste rugbyspan ‘n besluit geneem. Hulle wil fiks wees, opwindende rugby speel en dissipline moet die fondasie wees in die voorbereiding vir elke wedstryd. Dit was ook te sien op die veld gedurende die seisoen.

Spelers het reeds vroeg in die seisoen die geleentheid gekry om hul spel te verbeter tydens ‘n rugbykliniek wat aangebied is deur ‘Future Kings’ se Jaco van Schalkwyk en sy span afrigters. Die 2016 seisoen lewer wisselvallige uitslae vanaf die rugbyveld, maar met harde werk wen die CHS eerste rugbyspan hul grootste wedstryd van die jaar, interskole teen Gill Kollege, met ‘n telling van 36-24.
Drie spelers word gekies vir die Craven Week Akademiespan wat in Durban deelneem. ‘n Ander speler word ook genader deur die Griqua Rugby Unie om aan die Bokkieweek deel te neem, waar hy ook uitgeblink het.

CHS is baie trots op die spelers wat tydens elke kragmeting die Kwagga-naam hoog hou.


      s.hokkie4     m.hokkie     s.hokkie7

Hokkie

Hoërskool Cradock het hierdie jaar ses spanne, saamgestel uit vier meisies- en twee seunsspanne, wat op gereelde basis kragte meet teen ander skole uit omliggende gemeenskappe. Hierdie spanne neem deel aan die Despatch Sportfees en onderneem ‘n toer na die Arthur Johnson Sportweek in Mosselbaai.

Spelers neem ook deel aan die OP-proewe in beide 0/17 en 0/19 ouderdomsgroepe en behaal goeie uitstlae.
‘n Groep van agt CHS leerders word genooi om deel te neem aan ‘n internasionale hokkietoer wat gedurende Oktober in Spanje gaan meeding teen van díe land se bestes.


     netbal2    netbal12     netbal13

Netbal

Nadat die nasionale netbalreëls op 01 Januarie 2016 ingrypend verander woon CHS-netbalspelers ‘n kursus by oor die nuwe reëls, aangebied deur Attie van Wyk. Reg Sharp, bekende afrigter in die OP, het ook CHS se afrigters en senior spanne in ‘n kort afrigtingskursus gehelp om die nuwe reëls baas te raak. CHS het ook ‘n afrigtingskursus aangebied vir ander afrigters, met Reg as gas.

Hoërskool Cradock se netbalspanne speel elke seisoen wedstryde teen die omliggende skole van, Hangklip (Queenstown), Burgersdorp, Aliwal-Noord, Middelburg, Adelaide, Winterberg (Fort Beaufort) en Graaff-Reinet. Interskole teen Gill Kollege (Somerset-Oos) is die hoogtepunt op die kalender en sluit jaarliks die seisoen af. Spanne neem ook jaarliks deel aan netbalproewe wat in drie fases aangebied word, nl Cradock Sone (Cradock skole), Cradock Distrikproewe (Cradock, Middelburg, Hofmeyr en Tarkastad), asook die Chris Hani proewe wat in Queenstown plaasvind. Tydens die laasgenoemde proewe word spelers gekies vir die Oos-Kaap spanne om aan die Nasionale All Ages deel te neem.


atletiek3     atletiek6      atletiek9     atletiek4

Atletiek

Tydens die Eerste kwartaal vind die jaarlikse Kleure-atletiek plaas. Leerders word in twee kleurgroepe, Blou en Rooi, ingedeel en kompeteer vir onder meer bekers vir die beste prestasies vir seuns en meisies volgens die APE-tabel asook bekers vir die Victor Ludorum en Victrix Ludorum.

Atlete van Hoërskool Cradock neem elke seisoen deel aan verskeie byeenkomste wat aangebied word, nl die Cradock Sone-byeenkoms (CHS, Marlow, Michausdal, Matthew Goniwe en JA Calata), Cradock Distrikte-byeenkoms (Cradock, Middelburg, Hofmeyr en Tarkastad) sowel as die Chris Hani byeenkoms teen skole van Cradock, Queenstown, Cofimvaba, Lady Frere en Ngcobo. CHS tree om die beurt as gas op, om een van díe bogenoemde byeenkomste aan te bied.

Atlete neem ook deel aan die Oos-Kaap byeenkoms, in Oos-Londen, waar spanne gekies word om deel te neem aan die SA Skole-byeenkoms. Tydens die OP Junior-byeenkoms in Port Elizabeth word ‘n OP-span gekies om aan die SA Junior en Jeugbyeenkomste deel te neem.

Die hoogtepunt op die atletiek kalender is die jaarlikse Top 10 byeenkoms wat CHS aanbied, in samewerking met borge soos Tams Superspar, Bestmed en Madibaz. Sowat 600 leerders van 40 skole neem jaarliks aan hierdie byeenkoms deel.


     swem2     swem3      swem9

Swem

Hoewel nie alle swemmers kompeterend swem nie het Hoërskool Cradock ‘n sterk groep leerders wat jaarliks aan verskeie galas deelneem. Leerders wat wel kompeterend swem lewer uitstekende uitslae in al die items waarin hul deelneem. Jaarlikse galas waaraan CHS deelneem sluit in die Karoo Interskole-gala, Nelson Mandela Bay Aquatics Championships, SA Skolesport Kampioenskap, Uitenhage Swemklubkampioenskap sowel as die Dragon’s Night Gala in Oudtshoorn. Leerders sowel as enkele personeel neem ook deel aan die jaarlikse “River Mile”, wat aangebied word op die Sondagsrivier, by Colchester.


Tweekamp

CHS is baie trots op die groep atlete wat jaarliks deelneem aan Provinsiale- en Interprovinsiale byeenkomste. Tydens hierdie byeenkomste meet hul kragte teen van die land se sterkte atlete en behaal hulle topposisies. In 2016 is een atleet, Gareth Vorster, verkies as die OP-Spankaptein vir die groep wat tydens die SA-Kampioenskappe deelgeneem het in Bloemfontein.


     skaak2

Skaak

Hoërskool Cradock se skaakklub neem jaarliks deel aan verskeie wedstryde teen omliggende dorpe. Tydens die Hoërskool Union Skaakkampioenskap lewer CHS goeie uitslae en stap weg as wenners op die dag. Die CHS-skaakklub neem ook deel aan die interskole kompetisie en tree as wenners uit die stryd. Vyf leerders word opgeneem in die Chris Hani span wat in Desember gaan meeding tydens die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskappe.


     golf5    golf4    golf6

Golf

Hoërskool Cradock het tans 19 golfspelers, wat deelneem in beide mans- sowel as damesafdelngs. Hierdie spelers neem gereeld deel aan verskeie toernooie wat regoor die provinsie aangebied word. Die CHS-span stap weg met die brons medalje in die B Afdelings tydens hul laaste liga wedstryd.


 

Tennis

Tennis is ‘n gesonde sportsoort in Hoërskool Cradock. CHS speel gereed teen skole van omliggende dorpe. Verskeie leerders neem ook gereeld deel aan die Keyhealth- en Mini-tennistoernooie regoor die land.

Hoërskool Cradock spog vanjaar met vier tennisspelers wat OP verteenwoordig het tydens die SA Hoërskole-Tennistoernooi gedurende Maart.
Die jaarlikse Marelie Moolman tennistoernooi word ook elke jaar deur CHS aangebied, waar skole van regoor die land meeding vir die gesogte toernooibekers.


Muurbal

Spelers betaal ‘n registrasiefooi om by die plaaslike muurbalklub aan te sluit. Díe registrasiefooi word gedeeltelik deur die skool gesubsidieer. Oefentye is deur die jaar op Maandae en Woensdae van 15h00 tot 16h00.

Daar word gepoog om minstens twee vriendskaplike wedstryde per kwartaal te speel. Wedstryde word teen omliggende skole van Graaff Reinet, Middelburg, Queenstown en ook teen Marlow Landbouskool gespeel. Die hoogtepunt van die jaar is die interskole-wedstryd teen Gill Kollege.


     krieket    krieket2     krieket4

 Krieket

Hoërskool Cradock het tans junior sowel as senior krieketspanne wat plaaslik en interprovinsiaal deelneem aan verskeie toernooie en wedstryde. Onder die bekwame leiding van beide CHS afrigters asook buite-afrigters presteer die CHS krieketspanne telke male uitstekend. Die kolf- sowel as boulwerk van CHS spelers is van die boonste gehalte, met CHS spelers wat ook opgeneem word in die plaaslike Winterbergspan sowel as die OP-krieketspan. As deel van hierdie spanne lewer CHS spelers puik vertonings op die veld.

Die krieketgees loop hoog by CHS met personeel wat ook deelneem aan vriendskaplike toernooie teen omliggende dorpe.